Haal die kopseer uit jou vakansie met 47 Slim reiswenke

Maak hierdie op jou selfoon, tablet of skootrekenaar oop en merk die lysie af soos jy dit doen of inneem. Volgende keer as jy dit oopmaak kan jy net voortgaan waar jy opgehou het. Klik op die plus-teken langs elke punt.

0/0

Jou ingesteldheid

  • 1. Lag vir jouself

    My eerste keer bo in die Alpe het ek met groot bravade uitgestap in die sneeu en my skoene het soos seep onder my uitgegly. Ekt in die sneeu beland met neus en donkerbril in die sagte sneeu. Toerlede wat hul lag onderdruk het, kon saamlag omdat ek gelag het en die ys was gebreek, letterlik en figuurlik. Dit het 'n lekker warmte tussen ons geskep.

Geldsake en dokumente

  • 2. Neem 'n ekstra kredietkaart saam.

    Die masjien kan joune insluk, of as jy dit verloor moet jy dit dadelik stop en jy wil nie gestrand wees sonder 'n kaart nie.

  • 3. Reël versekering

    Neem reisversekering uit en skakel met jou mediese fonds oor mediese versekering.

  • 4. Paspoort en foto's

    Neem fotostate van jou paspoort en neem ekstra paspoort foto's saam.

Elektronika

  • 5. Battery-laaier

    Skaf vir jou 'n goeie draagbare battery-laaier aan. Beskikbaar by aanlyn winkels.

  • 6. Ekstra konneksies en proppe

    Onthou dat 3-punt proppe nie in ander lande werk nie. Neem ekstra konneksies saam vir jou rekenaar, selfoon en ander apparate wat jy moet laai.

  • 7. Ekstra batterye

    Neem ekstra kamera batterye saam, ook vir iets soos gehoorstelletjies.

Gesondheid

  • 8. Pille en voorskrifte

    Onthou jou pille en neem sommer 'n voorskrif van jou dokter saam vir jou noodsaaklike pille. Pak sonskerm in, lipice en handeroom.

  • 9. Vitamines en aanvullings

    Begin ekstra vitamines of aanvullings te drink minstens 'n week voor die toer. Bespreek dit asb net met jou dokter.

  • 10. Onthou om baie te drink.

    Oorweeg om 'n waterbotteltjie te koop wat jou water filtreer. Dit kos 'n paar honderd rand by aanlynwinkels. Mens kan selfs rivierwater drink uit so 'n botteltjie. Weeg dit liewer in. Hulle mag dit dalk afneem op die lughawe.

  • 11. Rekkouse

    Kry rekkouse by die apteek as jou voete geneig is om te swel en dra dit op die vliegtuig of lang reis ook hier in Suid-Afrika.

  • 12. Ontwateringspilletjies

    Neem 'n paar ontwateringspilletjies saam vir die lang sit. Bespreek met jou dokter. Ook of jy vir 'n paar dae voor die vlug 'n halwe Disprin moet drink.

  • 13. Gesigsmaskers en handreiniger

    Onthou ook om ekstra gesigsmaskers en handreiniger saam te neem vir Covid 19 regulasies en algemene higiëne.

Slaap en ontspan

  • 14. Nekkussing

    Kry 'n goeie nekkussing met geheue skuim (memory foam). Nie almal hou van die styfheid daarvan nie. Maar as jy gewoond is daaraan werk dit baie lekker en kan nek- en rugpyn verhoed

  • 15. Oorpluisies

    Neem lekker oorpluisies (om geraas uit te skakel) en 'n oogmasker saam. Koop 'n paar soorte oorpluisies by die apteek en toets vooraf watter oorpluisies werk die lekkerste vir jou.

  • 16. Vliegtuigslaap

    Een van die beste maniere om lekker op 'n vliegtuig te slaap is om jou kop reg te kry. Dit IS moontlik om lekker op 'n vliegtuig te slaap! Goeie oorpluisies en n oogmasker help jou om jouself in jou eie koekonnetjie toe te vou. Oefen vooraf met jou nekkusinkie om lekker te ontspan. Drink genoeg voor jy gaan slaap, want die vliegtuiglug is droog, maar bly weg van alkohol en enige iets met gas in – gas veroorsaak dikwels ongemaklikheid op 'n vliegtuig omdat dit weens die lugdruk in jou ingewande uitsit.

  • 17. Klankbybel

    Laai Youversion.com op jou selfoon af, as jy graag 'n Bybel byderhand wil hê. Sommer ook in die taal van die mense wat jy dalk langs pad ontmoet.

Praktiese reis-dinge

  • 18. Ekstra bril

    eem 'n ekstra bril saam, al is dit 'n goedkoop leesbril.

  • 19. Sonbril

    Onthou jou sonbril. Selfs al is dit winter, kan die son baie skerp wees. Veral as daar sneeu is, kan die lig verblindend wees!

  • 20. Toiletsakkie wat kan hang

     Skaf 'n toiletsakkie aan wat mens kan ophang. By Dischem of aanlynwinkels beskikbaar.

  • 21. Wees gereed vir enige weersomstandighede

    Onthou 'n opvoureënjas en/of sambreel, warm baadjie en hoed as jy een dra en swemklere as jy wil. Soms kry mens vier seisoene in een dag!

  • 22. Ligte serp

    Neem altyd 'n groot ligte serp saam. Dis soms nodig om jou skouers toe te maak of jou kop te bedek.

  • 23. Kaartjies en pen

    Neem 'n paar mooi kaartjies saam. Êrens wil jy dankie skryf of net iemand seën met 'n paar spesiale woorde. En onthou om 'n pen saam te neem. Sit dit in 'n plastiese sakkie. Ek het al 'n baie mooi handsak ruïneer met 'n pen wat in die vliegtuig onder druk begin lek het.

Versnaperinge

  • 24. Vind uit wat is toelaatbaar

    Biltong en vars produkte word in meeste gevalle nie toegelaat van een land na 'n ander nie.

  • 25. Nkosi stafies

    Kry vir jou Nkosi stafies by nkosibars.com. Dit kan 'n maaltyd vervang. Sanger Joe Niemand het dit laat ontwikkel om aan ondervoede kinders te gee. Dit vervang 'n maaltyd en voorsien die liggaam van al die nodige voedingswaarde. Jy kan self een eet en dis 'n sinvolle stafie om vir die bedelaar by die robot te gee. Dit is baie bekostigbaar en smaak lekker. https://savealife.africa/nkosibar-home.php.

Bagasie

  • 26. Reis lig!

    As jy leer om lig te reis (hier en as jy oorsee reis), gaan jy die lewe vir jouself BAIE makliker maak! Mens kom reg met drie stelle klere. Dalk 'n ekstra bloes. Gooi waspoeier in 'n plastiese botteltjie wat kan toeskroef.

  • 27. Pak in afsonderlike sakkies

    Ek plaas my bloese in een of twee plastiese sakke, voor ek dit in my bagasie pak. Rompe en broeke in 'n ander. Dis maklik om uit te haal as mens net een nag oorslaap. Sokkies in een sak en onderklere in 'n ander. Dit verskil van mens tot mens. Party mense rol hul klere op.

  • 28. Ekstra paar skoene

    Jou ekstra paar skoene pas lekker in die rek-sokkies wat mens op die vliegtuig kry op 'n lang oorsese reis of in 'n stortkappie.

  • 29. Handbagasie

    Pak in jou handbagasie: Reënjas, sambreel, baadjie (as jy dit nie aantrek nie) Toiletware, lipice, klein houertjie handeroom, pille vir 2 dae, hand saniteerder, stel skoon onderklere en skoon bloes of hemp, notaboek en pen of potlood, oorpluisies, oogskerm, masker. Tydskrif as jy graag lees. Of boek afgelaai op jou tablet.

  • 30. Klein opvou-drasak

    Kry 'n klein opvousakkie wat jy kan gebruik as 'n drasak en hou dit in jou skouersak.

  • 31. Skerp voorwerpe!

    Voordat jy jou tas toeknip, sorg dat jou knipmes en enige skerp voorwerp in jou inweegbagasie gaan.

Oppad!

  • 32. Gaan met 'n geruste hart

    Voordat jy jou deur sluit. Kyk dat die geyser af is en TV, Wifi en rekenaars ontkoppel is. Vensters toe is. Ek los 2 ligte in ons huis aan. Minstens een wat van die straat af sigbaar is.

  • 33. Data roaming AF!

    Skakel data roaming op jou selfoon af sodra jy vliegtuig toe stap. Anders kan jy verras word terug by die huis met 'n vier- of vyf-syfer rekening. In meeste hotelle is wifi beskikbaar. Gebruik dit om huistoe te kommunikeer.

  • 34. Geniet jou vlug!

    Dis baie veiliger as jou rit in 'n voertuig lughawe toe!

  • 35. Hou die bloed aan die vloei!

    Stap rond in die vliegtuig vir bloedsirkulasie. In die sakkie by jou knieë of in die tydskrif is daar gewoonlik voorstelle wat mens kan doen om die bloed te sirkuleer.

  • 36. Verversings op die vlug

    Vra enige tyd vir die lugwaardin vir ekstra drinkgoed of ander verversings. Dis gewoonlik net op internasionale vlugte beskikbaar.

In die vreemde

  • 37. Neem baie foto's

    Maak notas oor jou foto's, waar en watter geleentheid dit was.

  • 38. Joernaal

    Skryf 'n joernaal elke aand of oggend. Jy beleef soveel dinge wat jou lewe kan verryk - skryf prent dit nog dieper in!

  • 39. Geniet die andersheid!

    In 'n ander land en selfs net omgewing, gaan dinge anders gedoen word as tuis. Goeie maniere hier mag dalk sleg wees daar en andersom. Besluit vooraf dat jy die andersheid gaan omarm en geniet. In party lande en kulture skree mense as hulle met mekaar en jou praat. Hulle raas nie of is nie kwaad nie, dis net hulle manier om te kommunikeer. In ander kulture weer is mense baie gereserveerd. As hulle vir jou sê jou idee was OK, beteken dit: Dit was briljant!

  • 40. Leer 'n paar nuwe woorde!

    Leer 'n paar woorde in die taal van die mense waar jy is. Dit is pret en kan deure oopmaak. Dankie en asseblief is baie belangrik!

  • 41. Dis OK om te verdwaal : )

    Om te verdwaal is soms 'n groot voordeel. Moenie paniekerig raak as jy verdwaal nie. Hou kop. Jy beland soms op plekke en ontmoet mense wat uniek is en jou baie ryker in ervaring maak.

  • 42. Hoteladres en kamernommer

    Neem altyd 'n kaartjie van die hotel se naam, adres en telefoonnommer. En skryf sommer jou kamernommer daar op. As mens in 'n paar hotelle gebly het, kan jy deurmekaar raak oor watter kamernommer jy vandag in is.

  • 43. Boodskappe vir mense by die huis

    Kommunikeer met jou geliefdes minstens elke 2e of 3e dag.

  • 44. Wasgoed

    Spoel jou wasgoed saans uit. Gooi waspoeier in 'n plastiese botteltjie wat kan toeskroef. Soms gooi ek my onderklere in die wasbak om te week as ek gou stort. Dit gaan tjoef tjaf.

  • 45. As toergidse praat

    As jy deel is van 'n toergroep, bly stil as die gids of toerleier praat. Dan is jy bedagsaam teenoor jou medetoerlede wat graag wil hoor wat gesê word.

  • 46. Neem in

    Jou toerleier en gids het ervaring. Luister na hulle en na die wenke wat hulle gee.

  • 47. Geniet dit!!!

    Geniet wat jy doen en leef voluit in die oomblik!